Slaan oor na inhoud

Raaf steel die son, maan en sterre. (Stories uit Alaska se mitologie)

Augustus 15, 2012

Raaf, die ou karnallie.

Raaf het my vertel dat hy die hele wêreld self gemaak het. Ja, al die berge, blomme, bome en waterstrome, dit alles het hyself gemaak (ons weet mos dat dit nie waar is nie, maar ons moet maar maak asof ons hom glo, anders vertel hy niks meer nie – hy kan maar gou dikbek raak!). Raaf was baie opgewonde oor al die mooi dinge wat hy gemaak het en wou dit só graag aan almal gewys het sodat hulle hom kon prys (ook maar lekker vol van homself nè). Daar was net een groot probleem – niemand kon dit sien nie. Die hele Alaska was toe nog stikdonker. Ja, dit was toe nog die heeltyd nag in Alaska. Raaf kon nie ligte maak nie, want al die ligte van die son, maan en sterre het aan iemand anders behoort. Raaf het ʼn plan in sy skelmkoppie gehad. Luister net na wat die ou karnallie gedoen het.

Daar het ’n baie vername Indiaanse hoofman langs ’n salmstroom by die see gewoon. Hierdie hoofman was ryk en almal het baie van hom gedink. Elke jaar het hy die meeste [i]salm gevang en gerook, hy het die vetste bokke en bere gejag en sy houers was vol van die lekkerste bessies. Hy was sommer baie vernaam en het baie vriende gehad wat gereeld by hom kom partytjie hou het. Voor sy deur het die grootste en mooiste [ii]totempaal gestaan wat nog ooit gemaak was. Die paal se boonste punt het glad tussen die boomtoppe verdwyn. Dit was net die belangrikste hoofmanne wat sulke hoe totempale gehad het. Totempale was gekerf uit sederhout en was vol beeldjies wat stories vertel het oor die hoofman en sy familie.

Hoofman se mooi houthuis.

Hierdie hoofman het ook iets gehad wat niemand anders gehad het nie. Hy het lig gehad. In ʼn mooi gekerfde boksie het hoofman die son, maan en sterre gehad en net hy kon daarna loer net wanneer hy wil. Hoofman het niemand toegelaat om aan hierdie boksie te raak nie. Raaf het sy oog op die boksie gehad. Met die son, maan en sterre kon Raaf aan almal wys hoe mooi die woud en sneeu en riviere is wat hy gemaak het – die probleem was net dat Hoofman hierdie boksie met sy eie lewe bewaak het.

Alhoewel hoofman baie ryk en belangrik was, was hy ook baie treurig. Hy het nie seuns gehad wat dit alles kon erf nie en sy enigste dogter het nooit getrou nie (sy was nou darem ook nie die mooiste prinses in die woud nie). Hoofman sou alles wat hy gehad het wou gee vir ’n kleinseun! Raaf het al hierdie dinge geweet en dadelik sy planne agtermekaar gekry om hoofman uit daardie waardevolle boksie te kul om die son, maan en sterre in die hande te kry.

Raaf maak toe ’n slim plan. Eers verander hy homself in die naald van ’n sederboom. (ʼn Sederboom is ʼn soort denneboom wat volop hier in Alaska groei.) Toe gaan lê die karnallie in die wind sodat die wind hom tot binne-in Hoofman se huis waai, glad tot op die prinses se bed. Luister net wat die skelm raaf nou doen. Hy verander homself net daar in ʼn babaseuntjie. Mensig, dit was nou die mooiste seuntjie wat jy nog ooit gesien het, so oulik en so slim (natuurlik, dit was mos maar eintlik Raaf). Hoofman was baie in sy skik en hy het die seuntjie vreeslik bederf. Hy het hom selfs met die boksie waarin die son, maan en sterre is laat speel, maar natuurlik net as hy wat Hoofman is naby is.

Eendag moes Hoofman gaan jag en hy sit vir babatjie op ʼn veilige plek neer, maar die kind skreeu vreeslik. Babatjie wil net met die boksie speel en niks anders kan hom stil kry nie. Hoofman wil dit nie toelaat nie en toe skreeu die kind eers! Hy skreeu so hard en lelik dat die voëls in die bome sommer flou val van skrik. Dit is so erg dat hoofman se ore seerkry en hy is nog haastig ook.

“Nou goed” sê hy, “maar beloof my jy sal net in die huis met die boksie speel.”

Skielik is babatjie stroopsoet en beloof dat hy mooi versigtig met die boksie sal speel, maar in sy hart lag Raaf tog al te lekker, want hy weet dat hy Hoofman al klaar gefop het.

Nou moet julle eers weet dat die mense in daardie tyd nog vuur binne-in hulle huise gemaak het, want Alaska kan sommer lekker koud word. Hoofman het in ʼn lekker groot houthuis gewoon met die vuurmaakplek in die middel van die vloer. Reg bokant die vuurmaakplek was ʼn ronde gat waar die rook uitgetrek het. Hoofman was skaars by die deur uit, of Raaf verander homself terug van ʼn pragtige babatjie na lelike ou Raaf (moet tog net nie dat hy hoor ek sê dat hy lelik is nie, anders vertel hy my nooit weer stories nie). Raaf gryp dadelik die son, maan en sterre in sy pote en snawel en vlieg by die opening uit terwyl hy lekker lag omdat hy Hoofman so maklik gefop het.

Arend lyk sommer baie kwaai.

Toe Hoofman dit alles sien, was hy sommer woedend. Hy roep dadelik vir arend om Raaf agterna te sit en die son, maan en sterre terug te kry. Toe Raaf omkyk en sien dat Arend aan die kom, is klap hy sy vlerke al vinniger en vinniger… maar wag, dit is ʼn ander storie daardie wat ek later sal vertel.


 

 

 

 

[i] Salm is daardie visse wat in vars water uitbroei en dan see toe trek. Wanneer hulle wil eiers lê, kom hulle terug na die stroom waar hulle uitgebroei het en niks kan hulle keer nie – hulle swem selfs teen watervalle uit.

[ii] Totempale is iets wat net die vername Indiane kon bekostig. Die sendelinge het geglo dat die Indiane die totempale aanbid het, maar die waarheid is dat dit net stories uitgebeeld het van gebeure wat vir hulle belangrik was.

 

©Freddie Burger

From → Reis Alaska

10 Kommentaar
  1. Oe maar jy is wreed. Nou laat jy ons lekker “hang” Dankie vir die interressante storie.

  2. gjbstein53 permalink

    Ek is nou soos n Graad Eentjie wat nie kan wag op die volgende episode nie!!!! Ek is sommer omge=ellie ook!!!! WREED!!!

  3. Lieflike storie, Freddie! Ek wag saam met almal vir die volgende aflewering!

  4. Ek sal seker ook nou maar geduldig saam met die res moet wag Freddie! Maar ek waarsku jou, as daar NIE ‘n gelukkige einde hier is nie (soos Raaf wat wen!), dan is Alaska nie ver genoeg van my af nie!

  5. Raaf en Jakkals klink vir my n verwant aan mekaar.

Lewer kommentaar