Skip to content

Vertrektyd.

Oor ʼn paar ure vertrek ons na Seattle op die eerste been van ons tog na Suid-Afrika.  Voordat ons daar kom, moet ons eers vanaf amper bo-op die aarde afsak na onder die ewenaar.  Daarna moet ons halfpad om die aarde vlieg totdat ons in Suid Afrika land. Vanuit ons perspektief vlieg ons tot aan die agterkant van die aarde, vanuit die mense in Suid-Afrika se perspektief is dit net andersom.

Wanneer ons in Seattle kom, draai ons die horlosie ʼn uur terug, in Atlanta draai ons drie ure terug en dan in Johannesburg nog sewe ure terug.  Dit is maar ʼn deurmekaar spul, veral as mens op ses uurlikse medikasie is.  Ons hoop dat die besoek net so goed sal afloop as die voriges – behalwe vir die keer toe hulle by ons dogter se huis ingebreek het en Elise toe nog haar enkel ook gebreek het.

Ons sal seker nie die nuwe Afrikaans praat nie.  Ons kinders sal kinders bly en nie “kids” word nie, ook sal alles mooi bly en nie “beautiful” word nie.  Liedjies gaan bepaald ook nie “songs” word nie.  Ek hoop die mense kan ons nog verstaan.

Baie dankie vir al die goeie wense.  As dit stil word hier vanuit Alaska, moet julle weet ons is in Afrika.

Groete van die Ysburgers soos die familie ons gedoop het.

Gieter

My liggaam is ʼn gieter

en ek is sy tuit.

Steek jy my in my sy

sal bloed en water

daaruit spuit.

©Freddie Burger

Kom die son dan elke dag op? (Uit Alaska)

Kom die son dan elke dag op? Ek hoor gister by iemand dat sy al ʼn opgeskote dogter was toe sy die eerste keer gehoor het dat die son wel elke dag opkom. Sy het dit by die onderwyseres op skool gehoor. Tot haar verbasing is dit waar – die son kom elke dag op! Sy het natuurlik in Alaska groot geword waar mense nie altyd besef dat die son elke dag opkom nie, veral nie in die winter nie. Ons is nou vinnig op pad na die winter.

Kyk mens in die salmstrome, dan sien jy ʼn krioelende massa vis wat stroomop beur om kuit te skiet en dan te vrek. Salm vrek so twee weke nadat hulle kuitgeskiet het en spoel dan uit langs die strome, mere en strande. Dan is dit tyd vir bere, arende en ander diere om hulle trommeldik te vreet voordat die son vir die lang Alaskiese nag ondergaan. Die vissermanne begin lyne en nette wegpak en die toeriste haas hulle om weg te kom voordat die son sak. Baie mense is bang vir winter in Alaska.

September is ook die maand van die groot stink. Miljoene visse lê op die strande en rivierwalle en vergaan. Dit laat ʼn groot stink in die lug hang. Die karkasse wat deur die diere die bosse in gedra word, is goeie bemesting vir die woud, maar dit is ʼn storie op sy eie. Ons leef darem nie te lank met die groot stink saam nie. In Oktober tref hewige storms ons. Die swaar reëns spoel dan al die stinkende karkasse, wat eens sierlike visse was, weg. Ons Oktober reënval is gewoonlik meer as 34 duim (900 mm). Hierdie jaar kul ons so ʼn bietjie. Wanneer die storms die land tref, is ons in Suid Afrika se lente oftewel Oktober die mooiste, mooiste maand.

Ja, ons vertrek volgende week na SA vir ʼn kuiertjie en gaan dan ook sommer ons nuwe kleindogter ontmoet wat Vrydag (7 September) gebore is. Ons gaan bietjie in Gauteng en Zululand kuier en baie vleisbraai. Ek gaan ook die Afrikaanse Letterkunde Vereniging se kongres bywoon (my referaat gaan oor die rol van diere in T. T. Cloete se digkuns).

ʼn Besige en opwindende tyd wag op ons – veral die 30+ ure wat ons in die vliegtuig gaan deurbring. Dit is ver vanaf Alaska na Johannesburg.

Antromorfisme

Ek sien myself

in die oog

van ‘n dier

‘n leeu

‘n tier

‘n bosbokooi

‘n arend

‘n tortelduif

en selfs ook

in die oog

van ‘n mier.

 

Ek sien ‘n

verbleekte aap

‘n tak in die wind

‘n regop krokodil

‘n verbrande

boom

‘n telefoonpaal

‘n kragdraad

‘n windmeul sonder

waai

‘n versierde stad

 

Ek sien myself

in die oog

van ‘n dier

 

©Freddie Burger

 

Raaf steel die son, maan en sterre (Deel 2) Stories uit Alaska se mitologie)

‘n Salmstroom in die somer.

Julle onthou mos nog hoedat Raaf vir Hoofman gefop het en die son, maan en sterre by hom gesteel het. Laat ek nou vir julle vertel wat verder gebeur het. Die storie wat ek nou aan julle gaan vertel, het Raaf nie aan my vertel nie[i]. Hy praat nie graag hieroor nie, want alles het nie so lekker gebeur soos hy dit beplan het nie. Hy is maar so bietjie kop onderstebo skaam oor wat gebeur het, maar as mens in die woud rondloop, dan hoor jy sommer baie stories (volgende keer vertel ek julle hoedat dit gebeur het dat ek die taal van die woud kan verstaan).

Nou ja, Raaf gryp toe mos die houtkissie met die son, maan en sterre daarin en probeer vinnig deur die rookopening in die dak glip. Dit is net hier waar die eerste ramp hom tref: die kissie se deksel stamp teen die kant van die opening en daar glip die deksel oop! Raaf probeer nog keer maar hy is te laat. Die son, maan en sterre val uit!

Nou is Raaf in die moeilikheid. Vinnig gryp hy die son in een klou en die maan in die ander een. Julle moet darem ook weet dat die son, maan en sterre baie netjies in die kissie gepak was. Son en maan het langs mekaar gelê en die sterre was in drie mooi netjiese rye gepak. Raaf maak vinnig sy grote snawel oop en gryp die drie rye sterre net voordat hulle uitmekaar val – en daar gaat hy! Raaf kyk om en sien dat Arend hom agtervolg. Hy skrik hom boeglam, want Arend is groot en sterk en vinnig. Kyk net daardie skerp snawel en moenie eers praat van daardie wrede kloue van Arend nie! As jy in Arend se kloue beland, kom jy nooit weer daaruit nie[ii].

Raaf se hart klop so doef-doef in sy keel. Hy is doodsbenoud, maar hy klou aan die son, maan en sterre vir al wat hy werd is. Raaf flap sy vlerke al vinniger, maar dit help niks nie, Arend haal hom vinnig in! Nou is Raaf regtig benoud. Sy bors brand en sy asem hyg en hy vlieg al stadiger. Julle moet nou darem ook onthou dat toe Raaf gemaak het asof hy die hoofman se kleinseun was, hy darem al te lekker geleef het. Hy het elke oggend lekker laat geslaap, sy ronde pensie trommeldik geëet aan die lekker gerookte salm, haringeiers en ooligans[iii]. Dan was daar ook nog al die lekker bessies wat hy sommer so gulsig ingesluk het. Daar was salmbessies, wilde aarbeie, swartbessies en sommer baie meer. Nou moet hy betaal vir sy skelmheid en gulsigheid!

Raaf is nou baie moeg en hy maak sy snawel oop om asem te skep. Julle weet mos as ʼn mens moeg word, dan begin jy deur jou mond asem skep. Raaf sluk sommer lekker asem deur sy bek, maar elke keer dat hy so asem skep, val daar ʼn klomp sterre uit sy bek. Daar is sommer ʼn blink streep agter hom soos die sterre uit sy bek val. Naderhand vlieg hy sommer so oop bek dat die lekker vars lug kan instroom en die sterre tuimel nou woes uit totdat almal uitgeval het.

As julle Raaf nie wil glo nie, kan julle vir julleself gaan kyk. Kyk bietjie na die sterrehemel. Lyk dit of die sterre netjies in drie rye lê soos in hoofman se houtkissie? Nee a, julle sal sien dat die sterre sommer rond en bont in die hemel gestrooi is soos Raaf gevlug het!

Arme Arend, nou weet hy nie wat om te doen nie. Eers probeer hy die sterre vang maar daar is teveel van hulle. Boonop gee al die stringe blink sterre vir hom hoofpyn en hy draai maar om. Raaf se longe is nou vol lekker vars lug, maar die son en die maan hang soos twee stukke lood aan sy pote en toe hy afkyk, skrik hy hom sommer boeglam. In sy woeste vlug het hy al halfpad om die aarde gevlieg en die gewig van die son en maan het hom so ver afgetrek dat hy al regoor Suid Afrika is. Nou sal hy vinnig ’n plan moet maak, anders val hy sommer so woeps verby die hele aarde! Hy gryp gou ’n tou en bind een end om die son – nee, ek weet nie waar hy die tou gekry het nie, seker by die Indiaanse vissermanne gegaps – die ander end bind hy om die maan en vlieg met die maan terug na Alaska. Hy het ’n slim plan uitgedink: hy gaan die maan aan die ander kant van die aarde afgooi sodat die gewig van die maan kan keer dat die son verder val. Daarna sal hy ’n plan maak om die son terug te trek tot bo-oor Alaska.

Daar hang die son nou aan die aan die een kant van die aarde en die maan aan die anderkant. Dit was nog nie die einde van Raaf se probleme nie. Net toe dit lyk asof die maan se gewig gaan keer dat son verby die aarde val, net toe breek daar ’n groot stuk van maan af en daar trek son alweer! Gelukkig haak die stuk halfmaan wat oorgebly het aan ’n hoë sederboom vas en keer dat son heeltemal verby die aarde val.

Nou moet Raaf eers die maan weer heelmaak. Dit is sommer ʼn groot werk en dit vat hom ʼn hele maand om dit te doen. Stukkie vir stukkie plak hy die maanstukke terug totdat die maan weer heel is. Raaf, suinige ou skelm soos hy is, gebruik net goedkoop gom en so min as moontlik. Die plakkery hou net ’n maand en dan begin alles weer van vooraf: die maan breek stukkie vir stukkie af, Raaf gom en plak en so gaan dit aan. As julle nou vir een hele maand die maan dophou, sal julle sien hoe hy al kleiner word en hoe Raaf stukkie vir stukkie weer terug plak.

Nou goed, daar hang hulle, die son aan die eenkant en die maan aan die anderkant van die aarde. Julle kan nou ook sommer sien waarom, as dit dag is in Suid Afrika, nag is in Alaska en andersom.

Raaf wil nou vir son bo-oor Alaska hê sodat almal die mooi dinge kan sien wat hy gemaak het. Hy gaan sit wydsbeen op die hoogste sederboom in Alaska en begin om son op te trek, maar die son is swaar en Raaf swoeg om die son bo te kry. Dinge werk nou so: as Raaf die son optrek, dan sak die maan aan die anderkant. Dit is waarom die maan sak as die son opkom en die son sak as die maan opkom – dit is Raaf wat so sit en trek aan die son!

Die son is swaar en warm en Raaf sweet dat die strome so loop. Hoe nader die son aan Alaska kom, hoe meer sneeu begin smelt en oral loop waterstrome vol blink salm en ander soorte visse. Raaf kry glad nie kans om eens van die lekker visse te vang nie. Dit vat Raaf drie maande om die son tot bo-oor Alaska te trek. Terwyl Raaf die son optrek, word die dae in Alaska al hoe langer en word die dae in Suid Afrika al hoe korter. Wanneer die son tot reg bo-oor Alaska is, dan skyn die son sommer dag en nag in Alaska. Ons noem dit die middernagson en doen dan allerhande dagligdinge in die nag. Party speel bofbal en ander hardloop resies of maak sommer piekniek net vir die snaaks daarvan.

Alaska in die nag

Na drie maande word Raaf se kloutjies lam van die vashou en glip die son alweer af na Suid Afrika se kant toe. Dan word dit somer in Suid Afrika en winter in Alaska. Nou is Alaska vir drie maande in die donkerte en Suid Afrika het lekker warm somer. So sukkel Raaf maar voort om winter en somer om te ruil.

Ja nee, as ʼn mens vol skelmstreke is, sal jy op een of ander manier daarvoor betaal.

 

 

 


[i] Hierdie storie is nie deel van die Indiaanse vertellings nie, maar ek dink dit is presies soos dit gebeur het- sowaar!

 

[ii] Die Amerikaanse arend se kloue kan tesame ’n duisend pond (454 kg) per vierkant duim druk uitoefen.

[iii] Ooligans (eulachons) word ook kersvisse (“candle fish”) genoem. Dit is klein baie olierige vissies wat net ’n sekere tyd van die jaar in sommige riviermonde gevang word (die wat ek geëet het, was in die Stikine rivier gevang). In die ou dae het mense die vissies gedroog, ʼn pit ingesit en dit soos ʼn kers laat brand.

©Freddie Burger

Die lieg of bieg besigheid.

Kyk, nou het julle my uit my skuilplek geboender en ek kan tot my skande nie onthou wie almal dit gedoen het nie. Ek vind dit beter om te bieg as om daaroor te lieg!

1. Ek is bang dat ek dom sal wees as ek eendag doodgaan, daarom studeer ek nog.

2. Ek is bang dat ek sieklik is as ek eendag doodgaan , daarom oefen ek gereeld

3. Ek hou nie van hoogtes nie.

4. Ek is tot in my siel toe moeg vir die woorde “stunning” en “awesome” maak  nie sak of Afrikaans of Engelssprekendes dit gebruik nie

5. Ek is sentimenteel.

6. Ek gril as iemand hoorbaar eet of drink.

7. Ek is erg oor ‘n gewone vulpen (wat nog met ink skryf) en ‘n skoon stuk papier.

Ek nomineer die volgende maar weet nie hoe om verder te werk te gaan nie.

Annora Eksteen

After Silence

Briewe Uit Die Vreemde

Flenters se Persepsies

Blommelyn 2012

Hoe ek Raaf ontmoet het. (Stories uit Alaska se mitologie)

In die reënwoud

Het jy ook al ooit gewonder waar al daardie mooi stories vandaan kom wat so lekker en maklik by jou ore inglip? Ek het al gehoor dat mense sê dat stories met geheime ink geskryf word en dan verander al die woorde sommer net so in mooi stories, maar moenie dit glo nie. Ek sal julle vertel waar al die mooi stories vandaan kom, as julle beloof om dit aan niemand anders te vertel nie. Hier kom dit en onthou tog: Ek is nie iemand wat sal jok nie, veral nie vir kinders nie.

Dit het alles begin toe ek eendag in die woud[1] gaan stap het. Ek hou van die woud met al sy hoë bome en digte blaredak. Dit is altyd halfdonker en nat in die woud, want al die bome groei naby aanmekaar en vreeslik hoog. Party bome is so hoog dat hulle in die wolke verdwyn. Niemand het nog ooit hulle toppe gesien nie, behalwe daardie geheimsinnige een wat al die stories aan my vertel het. O ja, dit is baie geheimsinnig in hierdie woud. Daar woon baie soorte diere en klein mensies (ek het self al een gesien) en miskien ook reuse, maar daarvan sal ek later vertel. Die woud is vol allerhande geheime plekkies en paadjies. Ek is seker daar bly nog feetjies en kaboutertjies, want net feetjies en kaboutertjies kan sulke mooi en geheime plekkies maak.

Nou ja, eendag loop ek nog so lekker in die woud, toe hoor ek die mooiste en soetste stemmetjie roep:

“Oupa Freddie, kom speel met ons!”

Ek kon nie glo wat ek hoor nie, want my pragtige kleindogters woon mos in Suid Afrika en nie in Alaska nie. Net toe hoor ek dit weer:

“Oupa Freddie, kom speel met ons!”

Nou is ek sommer regtig haastig en opgewonde. Vinnig loop ek agter die mooi stemmetjies aan, maar die pragtige kinderstemmetjies laat my net al dieper en dieper die woud inloop, totdat ek besef:

“O aardetjie tog, nou het ek heeltemal verdwaal!”

Moeg en moedeloos gaan sit ek op ’n stomp en haal my toebroodjies uit want ek is nou sommer honger ook. Toe hoor ek dit: die lelikste geluid wat ek nog ooit gehoor het:

“Kwaaag, kwaaag” lag die stem vir my, “lekker verdwaal nè, lekker verdwaal nè” koggel hy my.

Vies kyk ek om en daar sit hy, die lelikste voël wat ek nog ooit gesien het! Hy is pikswart, van sy skurwe pote tot by sy lelike ou snawel en daai ronde skelm swart ogies loer so na my, so vol spot. Ek is lus en gee hom ’n dwarsklap, maar hou my in, want ek is bang en verdwaal.

Hy loer na my rugsak en vra sommer so half ongeskik: “wat is in daai sak?”

“My toebroodjies”, antwoord ek.

“Wat is daarop?” vra Raaf nou so bietjie vriendeliker.

“Grondboontjiebotter” sê ek.

“O lekker!” roep Raaf uit, “gee vir my ook!”

Ek wil my eers vervies maar dan onthou ek dat dit ek is wat verdwaal het en verleë is en ek gee vir hom ‘n hele toebroodjie. Eers nadat hy elke krummeltjie opgeëet het, raak die ou vriendeliker en praat in ’n gewone stem met my. Wat hy my vertel, maak my sommer vies, maar ek is nog nuuskierig ook en ek luister geduldig na sy storie.

Hy vertel my dat hy dit al baie jare doen. Hy lok mense diep die bos in deur die stemme van mense vir wie hulle lief het na te maak en as hulle heeltemal verdwaal het, pers hy hulle af vir al die lekkernye in hulle rugsakke. As hulle hom niks wil gee nie, los hy hulle net daar en lag dan al te lekker as hulle sukkel om uit die bos te kom. Dit was eers nadat ek hom nog toebroodjies beloof het, dat hy my die pad terug gewys het. Op pad terug raak ons aan die gesels. Later word ons sommer goeie vriende ook. Tot vandag toe nog is ek die enigste mens met wie Raaf in ʼn gewone stem sal praat.

Ek het dit toe nie geweet nie, maar ek kan julle nou waarsku: Moet net nooit lank en diep in daardie donker ogies inkyk nie, want dan sien hy alles wat jy dink en so kry hy jou in sy mag- rêrig!

Raaf lyk net soos ’n groot swart kraai, maar ek weet nie of hy regtig ’n voël is nie – daarvoor is hy gans te slim. Raaf kan homself in enige dier op aarde verander – hy kan hom selfs in ʼn mens ook verander! Partykeer lyk hy soos een van die Alaska Indiane[2], dan weer soos ’n bokkie of ’n arm blinde vrou of ’n mooie babatjie! Tot vandag nog kan hy sy stem verander en mense of diere na-aap. Dit doen hy alles sodat hy mense met al sy skelmstreke kan fop.

Ek en Raaf het sommer baie goeie vriende geword en dit net omdat ek my lekkergoed met hom gedeel het! Hy het aan my al die mooi en waar stories vertel wat ek nou aan julle gaan oorvertel[3].

O ja, julle wonder seker hoe ek dit regkry om vir Raaf en al die ander diere en plante in die bos te verstaan. Ek het hulle taal sommer maklik aangeleer. Enigeen kan dit maklik aanleer. Miskien vertel ek nog eendag alles vir julle, al het ek Raaf beloof om nooit, ooit hierdie geheim uit te lap nie.


[1]  Die Tongass Nasionale Woud is die grootse beskermde woud in die VSA en is seker die grootste matige reënwoud in die wêreld. Hierdie kouer reënwoud het ’n kleiner verskeidenheid plant- en dierelewe as die tropiese reënwoude. Die bome is soms eeue oud en is hoofsaaklik seder, spar (“sitka spruce”) en Westerse kerwel(“hemlock”),  alhoewel hier ander soorte ook groei. Hier is ’n verskeidenheid voëls en die Amerikaanse arend (“bald eagle”) is volop. Van die groter diere is takbokkies, wolwe en swartbere. In Ketchikan reën dit tot vier meter per jaar (ja, net so hoog as die huis se dak).

[2]  Die raaf speel ʼn belangrike rol in die plaaslike Indiane se kultuur. Hy word beskou as die skepper van alles, maar is terselfdertyd ook ʼn opperste karnallie wat graag mense en diere poetse bak. Soms is sy optrede doodgewoon onaanvaarbaar. Baie familiegroepe is na Raaf vernoem en hy verskyn ook dikwels heel bo-op die totempale.

[3] Ek gebruik Raaf as verteller wanneer ek getrou bly aan die mitologiese verhale. Wanneer ek afwyk en my verbeelding vrye teuels gee, maak ek dit in die storie duidelik dat ek die deel nie by Raaf gehoor het nie.

 

©Freddie Burger.  (Volgende keer gaan ek aan met Raaf en die son, maan en sterre –rêrig!)